"Enige persoon kan hierdie eet program volg en gewig verloor..."


SEATTLE website template
My en Riaan se reis het einde Desember 2017 begin, toe ons soos enige ander paartjie in hul vroeë 50s bekruip is deur die gewone nuwejaarsvoorneme van “oefen en alles wat geolie was gaan weer geolie word”. Met my gewig op 106.3kg en Riaan s’n op 121kg was dit makliker gesê as gedaan, maar dit was tyd vir verandering.

Ek gebruik al 14 jaar lank medikasie vir ’n onderaktiewe sklildklier, hoë bloeddruk en cholesterol en met ’n familiegeskiedenis van diabetes, was die skrif aan die muur. Toe Riaan knoppies op sy oorskulp kry as gevolg van cholesterol-neerslag, was dit die laaste strooi.

Ek doen toe al vir byna ses maande lank Callanetics (soortgelyk aan Pilates) drie maal per week, maar Riaan se werk het hom so besig gehou dat daar nie tyd (of motivering) was vir enige vorm van oefen nie.

Ons het besef dat ons met ’n vorm van oefening moet begin om net êrens ’n begin te maak en die maklikste was om SAAM die stoute (oud en afgeleefde) tekkies aan te trek en ons eerste parkrun te doen.

Januarie 2018 het ons deurgedruk en ons eerste 5km gestap, liters gesweet en gedink ons gaan nie die einde haal nie.

Ons het begin rekord hou van elke parkrun en teen Mei 2018 het ons reeds 16 parkruns voltooi en kon al aan ons tye agterkom dat ons lywe begin gewoond raak aan die gereelde stap. Ons het elkeen ’n horlosie aangeskaf om ons te help treë en hartklop tel en dit op sigself was klaar ’n mylpaal wat ons nie kon glo ons OOIT sou aanspoor nie.

Tydens een van die parkruns het ek agter ’n dame gestap wat, soos ek, stap omdat sy besluit het genoeg is genoeg. Ons het begin gesels en sy het my vertel dat sy begin stap het om haar te help om saam met haar eetprogram vinniger gewig te verloor. Die laaste kilometer van die 5 kilo’s het sy my vertel dat sy al 18kg verloor het en ek het my verluister aan haar ongelooflike verhaal van deursetting en vasbyt, ten spyte van die feit dat sy nie veel ondersteuning tuis gehad het nie. Met haar agt jaar jonger as ek, het ek gedink dis dalk iets wat ek en Riaan saam kon probeer en dat ons niks het om te verloor nie, behalwe miskien ’n paar kilogram...

Riaan het vir Antonette Grant as pasiënt besoek om deur middel van ’n eetplan sy cholesterol te beheer, omdat sy cholesterolvlak ’n grensgeval was vir medikasie. Aangesien hy van middagete voorsien word by sy werk en ek as huisvrou nie beheer het oor wat hy daar inneem nie, het Antonette vir hom begin “tips” gee oor hoe om slimmer keuses te maak oor WAT hy tydens middagete inskep en ook HOEVEEL, met ander woorde, porsiegrootte. Ek het haar uitgevra oor wat die dame by die parkrun my vertel het en sy het ons kortliks verduidelik wat eatForLife se basiese beginsels behels. Daar en dan het ons besluit dat ons gaan aansluit en die reis SAAM aanpak.

Op 17 Mei 2018 het ek en Riaan aangemeld vir “Operasie Gewigverlies en Gesondheid” en ons kyk nie ’n oomblik terug nie. Ons het geleer dat ons NIE op ’n dieet is nie; genoeg WATER die noodsaaklikste vloeistof is; porsiegrootte ’n realiteit is; kosetikette daar is vir ’n rede; ALLE kos toelaatbaar is, mits jy min of meer binne kilojoulegrense bly; stysel en suiker hul plek het in normale kosinname – dis die SOORT en HOEVEELHEID wat saakmaak; uiteet met slimmer keuses moeiteloos is en dat enige kos deur energie (oefening) verbrand kan word. Ons motto deesdae is ons eet WAT ons wil NADAT ons geoefen het. Ja, koek en sjololade ook!

Ons het besluit om in ons buurt elke Saterdag ’n 5km-roete te gaan stap en só gemaklik begin raak met oefen dat ons op die internet begin soek het na ’n soortgelyke oefenprogram wat ons binnenshuis kon doen. Daar ontdek ons toe die wonderlikste stap-program op die maat van musiek, wat só eenvoudig is dat my 84-jarige ma dit ook nou elke dag vir 20 minute lank doen. Nou doen ons hierdie oefenprogram in ons huis voor die TV ten minste vier keer per week en stap steeds Saterdae ons roete in die buurt.

Eet tydens feesdae en vakansie is nie meer vir ons ’n uitdaging nie, net nog ’n dag van slim keuses, beplanning en oefening. Selfs die winter se swaarder en ryk kosse kan ons nie meer onderkry nie. My 26kg en Riaan se 15kg later maak van ons gesonder en lewenslustiger mense. Dit is 10 maande later en ons is van plan om lede te bly totdat ons gemaklik is met ons gewig en ons dit vir ten minste ses maande kan afhóú.

Ons het ondersteuning gekry in ons twee volwasse seuns, wat ons verskil in leefstyl met verbasing en verwondering dophou, komplimente van familie en vriende en die belangrikste ons “journey” saam met ander wat almal in dieselfde bootjie is as ons by die eetprogram-klas. Vreemdelinge wat vriende geword het, resepte uitruil, bly is vir mekaar se suksesse, aanmoedig in “af” dae en ’n dierbare aanbieder in Antonette, wat nie veroordeel nie, maar met deernis aanmoedig. Ons sien uit na Donderdae, al was dit ’n moeilike week – die motiveringspraatjies gee almal weer moed vir die week wat voorlê.

Enige persoon kan hierdie eetprogram volg en gewig verloor. Met die lyste van koskeuses as jy nie van ’n sekere kossoort hou nie, is dit ongetwyfeld moontlik. Jy raak naderhand só gemaklik met die program dat jy sommer gou-gou nie eers meer daarna kyk nie, maar dit jou lewenswyse word.

Dankie aan Antonette en eatForLife – julle het ons lewe handomkeer verander!

The struggle is real...but watch this space!

Brenda Cilliers